Oor hospitaal besoeke.
Daar is ‘n ding (of twee) (of dalk drie of vier) wat ek nie verstaan nie….
1. Hoekom moet mens al 6 uur by die hospitaal inboek as jy eers 11 uur geopereer word?
2. Hoekom, as jy nooit regtig ontbyt eet nie, grom jou maag en jy wil dood van die honger?
3. Hoekom vrek jy vir ‘n koppie koffie en sal jy jou linker-arm gee vir een, net omdat jy weet jy mag nie?
4. Hoekom, as hulle jou sinusse en septum gaan uitsorteer, moet jy ‘n urine monster gee? (En dit nadat jy al vir meer as 10 ure nog geen vloeistof oor jou lippe gehad het nie)
5. Hoekom is jy vrek bang, al het jy vantevore al narkose gehad en jy weet dis okay en die dokter weet wat hy doen?
6. Hoekom wil hulle hê mens moet al 8 uur daai simpel hospitaal slaaprokkie aantrek???
Ja, ek is effens (lees baie) op my senuwees.
Ja, dit is net “Septoplasy + Bilateral Functional Sinus Surgery, maar ek is NIE opgewonde hieroor nie!
Sien julle later oor die punt van my “new and improved” snoetjie.
Jóú jas
Jou jas was los om my skouers
Tog het ek probeer om hom te laat pas
Dit was jóú gewig,
Jóú probleme
Jóú sondes
Tog het ek jou help dra
Donker
Swart
Jóú jas
Oorgroot
Aangepas, Aangetrek, Aangegryp,
Jóúne; Mýne gemaak
Hom gedra soos my eie
Tot vanmôre
Tot vanmôre toe ek die dolk saam
Jóú jas uittrek
Gebruik
Misbruik
Verbuig
Vermink
Geglo
GeGLÓ in jou
In jou jas
Donker
Swaar
Swart
Jóú jas
Nooit myne
Altyd jóúne
Jóú jas
Jóú las
Die dolk rus sag
Binne-in my rug
Donker
Swaar
Swart
Jóú jas
Ek kom loer gou in
‘n Ses jarige dogtertjie, hardloop op die skoolstoep oppad na die boonste vloer.
Sy moet gaan spreekkoor oefen.
Nog bietjie lomperig, soos ‘n kind maar is op daardie ouderdom, maak sy nie die draai om trap-op te gaan nie.
Nee, sy hardloop volspoed teen die muur vas.
Die bloed loop en sy weet nie wat om te doen nie en probeer dit maar in haar handjies opvang.
Die juffrouens en maatjies storm om te help.
28 jaar later is sy nie meer ‘n ses-jarige dogtertjie nie.
Nou is sy ‘n vrou wat hoor dat daardie dag toe nou eintlik ‘n groot nagevolg gehad het.
Sy gaan binnekort om nou maar die neus te laat regmaak, want sy skeefgeid veroorsaak nou probleme.
4 gevalle van Sinusitus in die afgelope 7 maande.
Die dokter gaan nou maar reguit maak en skoonmaak.
Die vrou is bietjie senuagtig daaroor.
Dis blykbaar nie die lekkerste operasie nie….
Vir diegene wat gevra het oor my rok, hier is hy.
Beeld se bruid van die jaar was asemrowend mooi gewees!
Wat ‘n lieflike aand, my vriendin het ongelukkig nie die groot prys gewen nie, maar sy het pragtig gelyk.
Dit was inderdaad ‘n heerlike funksie – Dankie JC Le Roux vir julle borgskap van die borrels
Ek sukkel my dood op litnet (eintlik letterdash) vandat ek van my iPad af blog.
Geen browser wil toelaat dat ek blog met paragrawe of prentjies nie, so om myself die frustrasie en irritasie te spaar dink ek dat ek maar hier moet kom blog. Na bewering skuif Lettersmash mos in elk geval hierheen.
Spoke in my drome
Gisteraand het ek die vreemdste droom gehad.
Oor my familie.
Ek het wakker geword in ‘n koue angs sweet.
Ek droom dat my sussie ‘n naweek vir die HELE familie reël.
Almal is daar en ons almal slaap oor by een of ander “oord” tipe plek.
Kom ek verduidelik met ‘n prentjie hoe die familie lyk:
Dogter 1 is die oudste, haar man is ‘n baie baie vreemde karakter, sy het drie kinders en 4 kleinkinders.
Dogter 2 het twee kinders en een kleinkind, ons is baie na aan mekaar.
Seun is my simpel oom wat ‘n lewensgrote issue met my het. Ek het al oor hom geskryf, die een wat nie na my oupa se 80ste verjaarsdag partytjie wou kom nie, omdat daar te veel “kaal” skilderye in ons huis is. Sy dogter, die Heilige niggie is so diep in haar ma en pa se gat opgekruip dat sy konstant kak idees het en geen opinie van haar eie nie. Ek is baie lief vir my baba neef. (2 Kinders, 2 kleinkinders)
Dogter 3, is my ma. (2 Kinders, 4 Kleinkinders)
Terug na die droom.
Almal van Ouma & Oupa tot die jongste agterkleinkind is daar.
My sussie (die een wat ek nou maar 2 jaar ken) het besluit dat daar te veel “issues” in die familie is en dat dit tyd is om dit uit te sorteer.
Ek, Modi & die kinders kom daar aan, ons is laaste daar.
Dan begin die chaos.
My teef niggie steek almal op teen my & Modi, en uiteindelik word ons geskuif na ‘n ander blyplek toe, oorkant die pad.
My Heilige niggie is kop in een mus met teef niggie en die bakleiery word lelik.
Ek “baklei” vir my gesin, my bestaansreg, my lewe as sulks.
En die hele familie, insluitend my sussie en Ouma & Oupa draai teen my, kies teen my, verwerp my.
Ek wil ry en hierdie sirkus agter my laat, maar ek kan nie, ons MOET daar bly vir die hele naweek.
En dit is wanneer ek sê: “Na hierdie naweek is my familie dood vir my, julle bestaan nie meer in my lewe nie, ek kies vir Modi en my kinders. Julle is niks vir my nie.”
Ek skrik wakker, sopnat gesweet, met trane wat teen my gesig afstroom.
Ek vat ‘n sluk water en kyk hoe laat dit is, 12:01.
Ek sukkel om weer aan die slaap te raak, die tonele van die droom speel oor-en-oor deur my gedagtes.
Half 3 vanoggend kyk ek vir die laaste keer hoe laat dit is en verval in ‘n droomlose, maar onrustige slaap.
Die droom pla my nogsteeds, en ek het ‘n onrustige gevoel, ‘n knoop in my maag en trane wat baie vlak lê vanoggend.
Maankind???? Stonemaiden?????? Is jy daar???? Kan jy help?????
Vullis, Vliegtuie ensoVoorts.
Soos Bileam Vrydag gesê het, die nuus is darem maar depressing….
Die Munisipale werkers staak alweer, wat beteken dat daar hope gemors die hele wêreld vol gaan wees.
Naby die Golf baan by ons, is daar so ‘n klein “dump” waar mense kan gaan rommel weggooi, maar die se hekke is alreeds van voor die naweek toe gewees. Wanneer jy inry, dan weeg hulle jou voertuig, en dan na jy die rommel weggegooi het weeg hulle weer, jy betaal dan per kg om gebruik te maak van die fasiliteit. Maar, nou is dit toe.
Dit beteken dat die mense hulle vullis eers by die ingang gaan neergooi, en na ‘n week of twee, gaan die rommel tot in die helfte van die Golf baan wees. Die stank is iets verskriklik, tog is daar hordes mense wat die sakke gaan oopskeur om te kyk wat hulle kan kry. Die mense gebruik dan natuurlik ook die geleentheid om van AL hulle opgegaarde gemors ontslae te raak. Met die laaste staking was daar alles van banke tot geroeste trailers tot stukkende ketels daar op die sypaadjie. Die armes dink natuurlik dis Kersfees want hulle krap, skeur, grawe en mors tot hulle iets kry wat hulle soek.
Ek raak so kwaad vir nommer een, die mense wat hulle gemors op die sypaadjie gaan neergooi – dit sê nie veel van hulle integriteit nie. (Ek verpes mense wat rommel strooi).
Tweedens, die mense wat so deur die sakke gaan – nie omdat hulle deur die sakke gaan nie, maar omdat hulle ‘n groter gemors maak as wat daar alreeds is.
Derdens (en eintlik heel bo aan my lys), die idiote wat staak. En die unies waaraan hulle behoort wat hulle aanmoedig om soos barbare en diere op te tree. En dan, na weke se gemors deur die strate sleep, die hele dorp ontsuur en ‘n stank wat vir weke hang, is hulle in elk geval dieselfde idiote wat dan weer al daai gemors moet gaan optel….
Ek verstaan nie lekker hoe werk hulle koppe nie. Inteendeel, ek weet nie of werk dit enigsins nie….
Dan is daar die Vliegtuie wat soek is na hulle opgestyg het uit Tzaneen.
‘n Vriendin van my se swaer is ‘n paar jaar gelede oorlede in ‘n vliegongeluk by ‘n lugskou.
‘n Paar jaar later is ‘n hegte familie vriend oorlede in ‘n soortgelyke ongeluk.
Nou is haar een skoonsus een van die vermistes op die Tzaneen.
Dis darem maar baie hartseer vir een familie. My hart en gedagtes gaan uit na hulle.
Mag daar ‘n wonderwerk wees vir hulle.
Oor die Bokke wil ek nie eens praat nie, maar ten minste het die Leeus die Cheetas se gatte geskop.
Die nuus is depressing, maar dit gee weer vir my perspektief, dit herhinner my aan die goeie dinge wat ek in my lewe het.
‘n Man wat oneindig lief is vir my.
Familie wat selfs met al die politiek saam, kan saamstaan wanneer dit nodig is.
Vriende wat luister, advies gee, dáár is, saam huil en saam lag.
Kinders wat my hart laat glimlag.
‘n Lewe wat ek vir niks sou verruil nie, met die stampe, stote, en dramas saam, is dit steeds MY lewe.
En ek LOVE my lewe.
Heeltemal.
Onbevange.








